Toe Jacob Kützer in 1709 in die Kaap geland het, het hy nie geraai dat een van sy nasate eendag die president van Suid-Afrika gaan wees nie.
Hier is ‘n kort weergawe van FW de Klerk se Coetzer/Coetser stamboom.
Stamvader
Jacob KüTZER (1671-1733), seun van Wenceslaus KüTZER. Hy is reeds 38 jaar oud toe hy in 1709 as ‘n soldaat vanaf Reichstadt (Zakupy), Bohemia, Oostenryk in die Kaap opdaag. Die Afrikaner Familienaamboek gee sy herkoms aan as ‘Setry naby Weenen in Oostenryk’. In 1713 word hy ‘n Boerkneg en in 1714 ‘n Vryburger.
Op 15 September 1717 trou Jacob in Stellenbosch met Cornelia HELM, wat reeds twee eggenotes aan die dood afgestaan het. Haar eerste man was Jan van den Bosch, vir wie sy drie kinders in die wêreld gebring het. Haar tweede man was Arie (Adriaan) van Wyk. By hom het sy tien kinders gehad. Vir Jacob baar sy twee kinders - Johannes Jacobus en Dorothea.
Cornelia is op 17 September 1673 gebore. Op 21 Junie 1720 , in die ouderdom van 47, sterf sy na ‘n kort siekbed. Sy was die tweede oudste kind van die Hollandse egpaar, Hans Helmis en Geertruy Willemse.
In 1722, op 51-jarige ouderdom, trou Jacob vir 'n 2de keer. Dié keer met die bloedjong, 19-jarige Susanna Snyman (1703-1740). Sy was die dogter van Christoffel Snyman en Marguerite-Therese de Savoye. (Die geskiedenis van Christoffel en Marguerite-Therese sal ek in 'n afsonderlike artikel verskaf.)
Susanna bring vir Jacob agt kinders in die wêreld – vier dogters en vier seuns. Sy sterf in 1740 op 37-jarige ouderdom - sewe jaar ná Jacob wat in die ouderdom van 62 oorlede is.
Eerste geslag
b1. (Jacob en Cornelia se oudste seun): Johannes Jacobus COETZER (c1716-1787) x (15.2.1739) Maria BOTHA (1722-1740) Maria sterf slegs 'n jaar nadat sy met Johannes getrou het, kort na haar eerste kind - 'n dogter - se geboorte. Johannes trou 6 jaar later, op 27.11.1746 met Johanna NEL (c1725-?), dogter van Pieter Willem NEL & Aletta VAN DEVENTER. Jacob en Johanna het 14 kinders.
Tweede geslag
c10. (Johannes se tiende kind, Johanna se negende): Wenzel Christoffel COETZER (26.4.1761-1842) trou op 16.3.1785 met Jacoba JORDAAN (1768-1857) - Hulle het 10 kinders en woon in Swellendam. (Dit is hierdie Wenzel se familie en huis wat beskryf word in "Narratives and Adventures of Travellers in South Africa" saamgestel en gedruk deur Porter & Coates [Philadelphia]). Lees 'n uittreksel HIER
Derde geslag
d5. (Wenzel en Jacoba se vyfde kind): Jacob COETZER (1798-1837) x (6.8.1820) Anna Sophia ERASMUS (1805-1888). Sy is een van 'n tweeling en trou ná Jacob se dood met Hendrik Stephanus Pretorius.
Vierde geslag
e6. (Jacob en Anna se sesde kind): Jacobus Erasmus COETZER (1831-1914) x (1859) Elizabeth Catharina Jacoba Johanna BUITENDACH (1838-1902). In 1902, op 64-jarige ouderdom, sterf Elizabeth in die konsentrasiekamp by Springfontein. Jacobus trou daarna met Andrisina Cecilia Jacoba JOOSTE. Hy sterf in 1914 in die ouderdom van 83 jaar. Andresina sterf eers 19 jaar later in 1933.
Vyfde geslag
f3. (Jacobus en Elizabeth se derde kind): Frederik Willem COETZER (1860-1938) x Anna Maria Margaritha GREYLING (1864-1898) xx (1903) Anna Cecilia FOUCHE (1883-1931) xxx (1936) Anna Jacoba Dorothea PRETORIUS [weduwee Maree] (1886-1960).
Sesde geslag
g7. (Frederik se sewende kind, maar die eerste vir die 21-jarige Anna Cecilia): Hendrina Cornelia Coetzer (1904-2001) trou in 1927 met Johannes (Jan) DE KLERK (1903-1979). Jan is aanvanklik 'n onderwyser, maar betree die politiek en word later Minister, Sekretaris van die Nasionale Party, President van die Senaat en, in 1975, Interim Staatspresident van SA. Hierdie egpaar is die ouers van FW de Klerk.
Sewende geslag
h2. (Tweede kind van Hendrina [Coetzer] en Jan de Klerk): Frederik Willem DE KLERK (18.3.1936-?) Suid Afrika se Staatspresident vanaf 1989 tot 1994.
FW de Klerk was die laaste president van die Nasionale Party. Sy bydrae tot die beëindiging van Suid-Afrika se Apartheidsbeleid het daartoe gelei dat hy in 1993 saam met Nelson Mandela die Nobelprys vir Vrede ontvang het.
FW het vyf ooms en drie tantes aan moederskant. Een van sy tantes se name was Emily Hobhouse Coetzer. Sy is in 1906 gebore, slegs 3-4 jaar nadat Emily Hobhouse wondere op die gebied van verpleging in die konsentrasiekampe verrig het.
Koop FW de Klerk se biografie HIER.
Lees my artikel "The History of South Africa in only 4000 words" HIER
© Martie Coetser